Gistermiddag besluit my Stapmaat en ek toe ons gaan nou uiteindelik die Wandelpad by Buffelsbaai aanpak. Dis nie lank nie, net so 4,2km vanwaar ons parkeer het, deur die bos, oor die strand en terug, maar hoekom ons dit in al die twee jaar wat ons nou ook hier in die Tuinroete woon, nog nooit gedoen het nie, is omdat dit van die pad af so vaal lyk. So Karoo'erig en nie asof dit juis lekker en interessant kan wees nie.
Man! Was ons verras. Wao! Ek het dit nou nooit verwag nie.
Kyk, die ding is so. Hier in die Buffelsbaai-omgewing is dit droër as net oor die bult, meer na die N2 se kant toe. En alhoewel dit van die afdraai af, waar dit groen en bosryk en ruig is, tot by Buffelsbaai maar net agt kilometer is, verander die natuur so in daardie agt kilometer, dat mens dit byna nie kan glo nie. Dit word regtig Karoo'erig.
Vandaar ons eerste indrukke die afgelope twee jaar dat die Wandelpad regtig nie juis mooi kon wees nie.
Nou - ons het dit toe gistermiddag gedoen, en ek het hordes fotos geneem waarvan ek nou hier wil plaas sodat jy die staproete saam met ons kan beleef - of dan ten minste so goed as wat fotos dit kan weergee. Wat wat van die geure en die geluide - wat tog ook bydrae tot die sintuiglike waardering van dit wat mens sien?
Terwyl ons gestap het en heeltemal oorweldig was deur die verskillende geure het ek daaraan gedink dat die Webmeester van hierdie Webtuiste gerus vir ons 'n "Geurknoppie"() hier kan inbou, sodat ek ten minste saam met die fotos ook die verskillende geure kan laai. Maar later het ek besef dat dit byna onmoontlik sou wees want dan sal mens ten minste twintig sulke knoppies moet maak net vir al die geure wat ons gistermiddag beleef het. Want soos wat mens op en af oor die bebosde tuine stap verander die geure saam met die geluide van die voëltjies en die see... en onthou dis nie lente hier soos in die ander dele van die land nie - elke seisoen hier in die Tuinroete het sy eie blomme, selfs in die winter, so mens kan nie regtig sê dat dit nou lente is daarom is daar soveel blommetjies nie. Dink ek.
... 'n belewenis.
By die parkeerterrein oorkant Buffelskop Woonwapark waar die Wandelpad begin, so 'n kilometer duskant Buffelsbaai...
Miskien was ek maar net gister in 'n blommietjiekyk-luim want sommer al by die parkeerterrein het hierdie vriendelike kleure my oog gevang...
En terwyl ek nog die blommetjies bewonder en afneem gryp my ou Stapmaat die rugsak en daar gaan sy... reguit na die beginpunt van die staproete toe. Ons was gister nou sommer lus vir stap so na die winter se binnebly...
Ek was verbaas om die trappies te sien wat regoor die hele staproete aangebring is, seker omdat die staproete oor die toegegroeide duine strek en die trappies nodig is om die los sand te beheer en stap te vergemaklik.
Die Suurvye is nou sterk in die blom...
Wat my van die staproete die meeste verras het is die digte plantegroei op sommige plekke in die leegtes en die tonnels waardeur die staproete dan loop... bostonnels wat ek gladnie hier verwag het nie. Groen, ruie, lus struike en bome...
En blommetjies op die mees onverwagte plekke...
En wanneer mens omdraai en terugkyk... die see anderkant die parkeerterrein. Soos wat mens stap sien en/of hoor jy die verskillende kante van die see soos wat jy opgaan of afklim op die staproete. Aan die een kant somtyds die see aan die parrkeerterrin se kant, dan weer soms die see nader aan Buffelsbaai en soms soos wat jy vorder die see aan die Brenton-on-Sea kant van Buffelsbaai...
Die foto is reg in die son in geneem en my mik-en-druk is nou nie so slim nie. Nietemin - dit was ook bewolk en soos wat ons gevorder het, het die wolke by tye dit meer donker gemaak...
Soms is mens onder agter 'n duin en dan weer op 'n bultjie en kan jy die see sien, en hoor en die reuke... die reuke wat soms so oorweldigend verrassend is...
Bo-op aangekom... of liewers een van die bo-oppe kan, mens die boonste vlak van Buffelskop Woonwapark sien as jy terugkyk...
Staproete101 - moet nooit 'n staproete onderskat nie.
En dan skielik maak die bosse oop en kan mens Buffelskop Woonwapark van bo af sien met een van die ablusieblokke daar onder. Dit bly gesluit en wanner mens daar inboek kry jy jou eie sleutels...
Die grondpaadjie is nie deel van die park nie, maar gaan op na een of ander uitsaaitoring toe. Buffelskop Woonwapark bestaan uit drie vlakke grasbedekte staanplekke - links onder is vlak een, net links van die paadjie op die foto daar voor is vlak twee en vlak drie is reg teenoor die paadjie...
Die paadjie waarlangs ons pas gestap het is deel van die staproete maar algou verdwyn dit weer in die bos soos wat die staproete weer agter die duin afsak... met hierdie pragtige roesbruin vygie tipe plantjie wat die grond bedek...
Doer agter steek Brenton-on-Sea se duine uit...
Nog van daai pragtige roesbruin vlekke op die grond tussen die sandwit en die groen...
...en dan weer 'n skelm verruklike misterieuse tonnel in die bos met blare op die grond en rueke en die geluide van voëltjies... hier was nogal verbasend baie voëlgeluide op die Wandelpad in vergelyking met byvoorbeld groot bosse hiernaby soos Fiela se Bos... jy onthou mos vir "Fiela se Kind" en "Kringe..." ...nouja haar bos is nie ver van hier af nie. Groot. Woes. Baie mooi maar stillerig...
My mik-en-druk probeer hard maar soos met hierdie foto kan dit nie die aangrypendheid van die fynmooi weergee nie... jy sal maar self moet kom kyk.
Wat my ook opgeval het is die duisende klein skulpies op die roete... soos in oral, heeltyd... en ek het nogal gewonder wat dit is? Miskien weet jy?
Ek dink namate die seisoen vorder gaan hierdie plante nog meer blare kry en dan gaan dit nog mooier word...so teen Januarie, Februarie gaan dit nog aangrypender mooi wees...
Die Duine by Brenton-on-Sea en Knysna Heads word al meer sigbaar...
Nog roesbruin in die groen... en monie dink dis dooie plantjies nie. Inteendeel dit is lewendig en pragtig
Daaaars hy... Buffelsbaai en Buffelsbaai Karavaanpark daarrrrr op die punt kom in sig...
En net so skielik die see aan die ander kant van Buffelsbaai....
Buffelsbaai word al duideliker...
Brenton-on-Sea ook...